Oor Storiekadorie

Storiekadorie is hier om hulpbronne en riglyne aan ouers te verskaf sodat hulle hul kinders op ‘n konstruktiewe, veilige manier kan bloot stel aan al die tegnologiese wonders waarmee vandag se kinders groot word, insluitende luisterstories, videostories, rekenaarspeletjies en apps.

Dit is seker ‘n bietjie ontstellend vir tieners as jou ma en pa nog kan onthou hoe die eerste selfone gelyk het, of hoe ons lewens gelyk het voor die bestaan van die internet – of selfs voor die bestaan van TV!  Hoe is dit moontlik dat mense kon reis of enige nuwe plek kon vind voor GPS navigasie?

Nuwe tegnologie hou altyd vir ‘n samelewing nuwe geleenthede, sowel as nuwe bedreigings in.  Dit is ons as ouers se verantwoordelikheid om ons kinders op te voed om die nuwe geleenthede wat moderne tegnologie vir hulle bied met beide hande te kan aangryp sonder om vas te val in die gevare wat dieselfde tegnologie vir hulle kan inhou.  Daai is egter makliker gesê as gedaan!

 My webwerf is nog splinternuut (geregistreer aan die begin Februarie 2017) en my plan is om binne die volgende weke en maande nog ‘n klomp items, riglyne en artikels by te voeg.

Die teikengroep is tans kleuters en klein kinders (laerskoolouderdom).  Hierdie teikengroep sal moontlik uitbrei soos wat my eie tweetjies groei (Jacobus is 4 en Esti is 6).

Oor Marina la Grange

 Ek is Marina la Grange, die mamma en webontwikkelaar agter Storiekadorie. Storiekadorie skep ‘n ruimte waarin ek my kennis en ervaring oor kinderontwikkeling, tegnologie en ouerskap kan kombineer.

Ek het in 1996 gekwalifiseer as Arbeidsterapeut by Kovsies (nou die Universiteit van die Vrystaat). As nuut-gekwalifiseerde terapeut het ek meestal gewerk met kinders, onder andere vir 2 jaar as lokum in London. Dit was ongelooflik om betaal te word om met kinders te ‘speel’!

Danksy my liefde vir nuwe uitdagings en ‘cool’ tegnologie het ek egter kort voor lank in die IT veld beland. Na ‘n paar jaar van deeltydse studie en voltydse werk as ‘IT girl’ het ek in 2012 ‘n BSc in Inligtingstegnologie en Rekenaarwetekskap (cum laude) verwerf aan UNISA.

Tussen 2010 en 2012 het my wêreld weer op sy as gedraai met die geboorte van eers my dogtertjie, Esti, en later my seuntjie, Jacobus. Ek was gelukkig genoeg om in 2012 ‘n tuisbly-mamma te kon word (deels te danke aan my dierbare man se bereidheid om die geleentheid vir ons gesin te gun). En was die afgelope paar jare saam met my twee kindertjies pret, so tussen al die uitdagings van ouerskap deur!

Storiekadorie gee my ‘n kans om met ander ouers sommige van die hulpbronne, navorsing en idees te deel wat ek die afgelope paar jaar versamel het.